Katedraal van Florence

Katedraal van Florence

Die Katedraal van Florence, amptelik bekend as die Cattedrale di Santa Maria del Fiore (Italiaanse fonetiese uitspraak: katteˈdraːle di ˈsanta maˈriːa del ˈfjoːre; in Afrikaans: "Katedraal van die heilige Maria van die Blom"), is die katedraal van Florence, Italië (Italiaans:Duomo di Firenze). Daar is in 1296 begin met die bouwerk daarvan. Dit is gebou in die Gotiese argitekstyl ingevolge 'n ontwerp deur Arnolfo di Cambio. Die struktuur daarvan is in 1436 voltooi, met die koepel wat deur Brunelleschi ontwerp is.[1] Die buitekant van die basiliek is oorlê met polichroom marmerpanele in verskeie skakerings van groen en pienk. Die vooraansig is deur Emilio De Fabris ontwerp in die uitgebreide styl van die 19de eeuse Gotiese Herlewing.

Die hele katedraalstruktuur wat in die Piazza del Duomo geleë is, sluit die Florence-doopvont en Giotto se Campanile (kloktoring) in. Hierdie drie geboue is deel van 'n Wêrelderfenisgebied wat die historiese sentrum van Florence dek en 'n groot toeristeaantreklikheid in Toskane. Die basiliek is een van Italië se grootste kerke, en die koepel was tot die ontwikkeling van nuwe strukturele materiale in die moderne era die grootste koepel ter wêreld. Dit bly egter een van die grootste bestaande baksteenkoepels wat ooit gebou is. Die katedraal is die moederkerk van die Rooms-Katolieke Aartsbisdom van Florence, tans aartsbiskop Giuseppe Betori.

  1. Ermengem, Kristiaan Van. "Duomo di Firenze, Florence". A View On Cities (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Oktober 2019. Besoek op 5 Februarie 2016.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search